‘n Vakansie in die berge

Ek het die afgelope 5 dae in Montana spandeer.  Laat ek begin met ‘n tipiese Afrikaanse cliché, dit was asemrowend.  Dit probleem met so ‘n beskrywing is dat nie een van julle ‘n benul het wat ek nou eintlik bedoel nie.  Hierin lê die uitdaging, om met woorde iets asemrowends so te beskryf dat jy darem ‘n idee het van wat ek bedoel.  Hier volg dus my menslike poging om dit te beskryf.

Sondag oggend het ons vertrek vanuit Didsbury so 70km buitekant (skies dis te onduidelik, ek bedoel amper reg Noord – gaan kyk maar op GoogleEarth) Calgary.  Die eerste aantal ure is maar uneventful waar ons maar net stop vir ‘n piepie en ‘n lekker burger met tjips.  Selfs die VSA grens was nie rerig iets om oor te skryf nie, behalwe dat dit ons US$6 per persoon kos om in te gaan selfs al het ons VSA visums.  Die landskap het wel teen hierdie tyd reeds drasties verander van plat niksseggende grasvlaktes na iets wat darem kontoerlyne sou veroorsaak op ‘n kaart.  Dis rondom hierdie tyd wat ons min of meer wes van Lethbridge verby ry, met die enigste teken van die dorp die stadig draaiende windturbines wat help om die minder as 0.2% van Kanada se krag op te wek vanaf renewable energy.  Ek weet nog nie hoe renew jy wind nie, ek dog dit waai maar net van een plek na ‘n ander soos die Prediker skrywer mos goed verduidelik.  Maar ek dwaal nou af.  O ja, ek skat ons kon so 15-20 van daai tipiese 3 propeller windturbines in die verte sien.

Daar ry ons 4 SA’ners toe in ons Japanese Honda met sy Kanadese nommer plaat in die VSA.  Klink soos ‘n vreeslike internasionale rys, maar vir my voel dit maar net of ek die wag se boekie geteken het by een van daai ou booms wat in Sandton was voor dit verban is.  Rerig man, God het dit mos een stuk land gemaak.  Dis die mens wat daar ‘n streep in die sand getrek het en kom sê het jy mag dit nie kruis son’er ‘n permissie briefie nie, of te wel ‘n visum.  Vir die van julle wat dalk wonder, die grenspos is maar om-en-by dieselfde size as die tussen SA en Botswana.  Die verskil is net dat die ou wat jou boekie stampel wit is, daar’s toilette wat menslik moontlik is om te gebruik, o en moenie vergeet dat almal gewere dra nie.  Anyway langstorie kortgemaak, ons is oor die grens en in Montana.

“Maggies, ma’ hoekom is die speed limit da’ nou skierlik so min” dink ek toe by myself.  Toe tref dit my, aan dié kant van die draad is alles mos in myle nie kilo’s nie.  Vir die res van my trippie moet ek my hoofrekene toets deur vinnig die syfer op die bordjie te maal met 1.6 en dien ooreenkomstig te ry.

Oppad word ek so elke nou en dan hier vanuit die passisiersstoel gevra of ek seker is ek’s op die regte pad.  Die eerste keer stop ek en raadpleeg die GPS op my BlackBerry net om te bewys (en te bevestig) dat ek wel op die regte pad is.  Die volgende keer besluit ek, te moer met dit en ry soos ‘n tipiese man wat dooooodseker is dat hy op die regte pad is.  Na 16km (skies 10myl) se veldbrandverwoeste bergkoppe met ek die aftog afblaas, erken dis die verkeerde pas en gedweë omdraai.  Ek kon darem vir GoogleMaps blammeer, want die plek waar hulle sê ek moet draai is toe nie dieselfde as wat die padtekens sê nie.  Okay, dis ‘n kak verskoning, ma’ ek moes my ego probeer red.  Na ‘n verdere US$24 draai ons toe by St Mary’s meer in “Glacier National Park” in (van nouaf sommer net genoem die park).  Die roete word heel Babelonies genoem “Road to the Sun“.  Gelukkig het my Honda nie vlerke soos Icarus nie en gaan die pad nie werklik tot by die son nie.  Vir die wat al die Prins Alfred pas in Suid Afrika gery het, hierdie is basies dieselfde behalwe dat dit darem geteer is.

Vir die wat nog nie die Prins Alfred pas gery het nie, hierdie is op plekke ‘n pragtige bergpas en op plekke ‘n roete wat die wit op jou kneukels laat wys en jou ‘n hoofpyn geen van konsentreer soos voertuie raaklinks bymekaar verby skuur omdat die pad so nou is en omdat die bestuurders nie wil uitmis op die scenery nie en dus nie aldag lekker op die dun kronkellende paadjie konsentreer nie.  Die pad is in 1932 voltooi en is grootendeels aan die ooste kant van die Rots Gebergtes uitgekerf (Rocky Mountains).  Hierdie bergreeks word algemeen na verwys as die Rockies asook die Continental Devide.  Op ‘n afstand lyk die dun paadjie teenoor die magtige bergreeks soos ‘n lekker lang krapmerk in die verf van jou kar, jy kan sien waar die lyntjie loop maar daar is in verhouding tot die kar/die bergreeks nie werklik enige diepte aan die krap nie.  So volg ek maar die krap teen die berg met my miergrote karretjie gelydelik al hoe hoër.  Elke nou en dan kom ek om ‘n skerp draai (met my oë half op die pad en half op die berge) dan kry ek so ‘n koue rilling as ek besef dis tickets met my hele gesin as ek by die rand so afkantel.  Teen die helling van die berg is ek seker jy sal ‘n goeie kilometer val voor die brandende wrak tot stilstand kom.  Dan keer ek maar weer my oë na die pad en vergeet doelbewus van die uitsig.

Menige strome water vloei teen die berg af vanuit verskeie gletsers.  Ek’s nie heeltemal seker hoe om dit te beskryf nie.  Die naaste was ek kan dink is om dit te vergelyk met are of beter nog spatare, want hul kan ‘n mens mos duidelik sien.  Net so stroom dit van bo na onder en oorkruis mekaar op seker plekke en smelt saam op ander om dikker strome te skep.  Heelonder in die vallei eindig al daardie water op in ‘n sterk slagaar wat vloei van die een maar na die ander.  Op ‘n stadium gaan ons verby ‘n stuk genaamd The Weeping Wall.  Dis een soliede loodreg uitgekerfde rotsplaat wat ek skat so 4 meter hoog is en sit reg langs die pad.  In die lente wanneer die massas sneeu smelt vorm dit ‘n 100 meter breë gordyn van water wat die verbygaande karre sommer goed natspat.  In die laat somer lyk dit meer soos ‘n reeks storte waar dit plek-plek vloei en nie vloei nie omdat die water teen hierdie tyd al heelwat minder is.  Eindelik hou die geklim op en begin weer gelydelik daal, maar dan maak jy ‘n haarnaalddraai en skielik daal die pad van so aard dat jy meestal met jou voet op die briek ry.  Wanneer die helling van die pad weer meer gematigd raak ry jy langs ‘n stil massiewe waterliggaam.

Later vind ons uit hierdie is die McDonald meer wat so grasiheus daar lê en wink vir enigeen met ‘n visstok of ‘n kanoo.  Die meer is 15km lank en amper 150m op sy diepste.  Glashelder met die tipiese blougroen skynsel eie aan gletserwater mere.  Op hierdie deel van die pad verdwyn die reusagtige berghange agter rye en rye seder en denne bome wat troon bo die voertuie.  Soos ek later sal vertel is verskeie van die bome selfs meer as 30m hoog en etlike eeue oud.  Die nietigheid van die mense kom hier so duidelik na vore met die tronende berghange, die massiewe watermassa en die eeue oue woud wat jou duidelik laat verstaan dat jou leeftyd maar net ‘n miswolkie is wat verdwyn met die sonsopkoms.

‘n Paar kilo’s verder ry ons aan die onderpunt van die park uit en pak die laaste 20 minute se ry na ons bly plek aan.  Ons tuiste vir die volgende 5 nagte is ‘n houthut teen die hange van die berge in ‘n klein dorpie genaamd Hungry Horse.  Binne die hut is 3 dubbel beddens waarvan twee ‘n bunkbed is en almal is van rou ronde denne balke gemaak.  Ons is ook verras om binne ‘n yskas, kragpunte en ‘n tafel met ses stoele te vind.  Ons verbasing is maar net omdat die prys rustic was en dus nie soveel luukshede behoort in te sluit nie.  Die stoepie van ons hut kyk uit op die Rockies.  Die spesifieke stuk wat ons kan sien lyk soos iemand wat op sy sy lê en kyk in ons rigting.  Albei arms wys navore en is 90 grade gebuig by die elmboog en een been is opgetrek in die fetis posisie.  Die verhoogde koppe vorm dus die skouers en heupe met die diep en meer verhewe stukke wat onderskeidelik die profiel lyne vorm van die arms en bene.  Die groen woud wat die berg bedek lê soos ‘n kompers saggies op die liggaam van die slapende reus waarna ons kyk.  En dit was alles net in die eerste dag wat werklik ‘n pragtige dag was.

Reën was voorspel vir die volgende 3 dae, maar moeder natuur het nie gewag vir dit nie.  Ek sit op die stoep en lees Lord of the Rings, nadat die boek vir 2 jaar in my kantoor gewag het om oopgemaak te word.  Die kinders speel met hulle grafies en sandtrokke en als lyk en voel vreedsaam, behalwe…Ek loer oor die rand van die bladsy en sien iets…ek’s nie seker wat ek sien nie.  Beskerm deur die omringende berge waai die wind nie juis waar ons sit nie, maar bokant die berge is dit ‘n ander saak.  Vir die eerste keer in my lewe sien ek hoe wolke beweeg soos ‘n golf wat breek op die strand.  Die windspoed was so groot dat die wolke nie eers kans kry om oor die kruin te waai nie, dit druk vas teen die bergpieke en tuimel oor mekaar net soos wanneer water die strand tref.  In film terme sou ek sê dit het gelyk soos die scene in Armagedon toe die tsunami oor die berge spoel.  Natuurlik het die reën nie veel later nie begin uitsak en soos verwag die volgende 3 dae alles met ‘n nat kombers toegemaak.  Soms het dit sag en aanhoudend geval soos ‘n Kaapse winter bui en ander tye het dit gekom-en-gaan soos die koors van ‘n onbehandelde bosluiskoors.

Vir die volgende drie dae het ons die verskeie riviere en mere in die area verken in dorpies soos Bigfork, Whitefish, Kalispell, ens.  Elkeen het sy eie mooi en herinner mens nogal aan die vakansie dorpie gevoel wat heers aan die suidkus van die Kaap.  Soos altyd het die kinders elke geleentheid gebruik om klippies in die water te gooi want dit is mos die gunsteling tydverdryf vir ‘n kind van 4.  Ongelukkig het ons weens die koue weer nooit in die mere geswem of met ‘n boot uitgegaan nie.  My laaste skrywe (Moerse tegnologiese ontwikkeling) het ek juis op een van hierdie dae getik in ‘n restuarant op die suidelike oewer van die McDonald meer.  My nagereg was ‘n bittersoet gebakde poeding gemaak met huckleberries, ‘n pers moerbei agtige bessie wat plaaslik groei.  Ek het dit terdee geniet.

Met die terug ry slag het ons ‘n punt gemaak daarvan om gereeld te stop en foto’s te neem.  Om af te sluit het ons ‘n kort stappie geneem met die kinders deur ‘n 500 jaar oue sederwoud.  Van die bome se stamme was meer as 2 meter in deursnee en 30 meter hoog.  Klam en koud in die skaduwee net soos wat ek die Tsitsikamma woud onthou.  Met die terug kom by die kar begin ons groottrek terug na Kanada.

So eindig ons vakansie in die berge net soos hy begin het, asemrowend.

Advertisements
This entry was posted in My stories and tagged , , , , , . Bookmark the permalink.

One Response to ‘n Vakansie in die berge

  1. Berns says:

    Vir die wat nie weet nie, die rooi teks is links. “Hover” oor dit dan sien jy ‘n voorskou van die foto of jy kan klik op dit om die volle foto oop te maak. Dit gee darem net ‘n bietjie van ‘n beeld aan wat ek probeer beskryf.

    Cheers,
    Berns

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s